Selfs die langste reis begin met die eerste tree. As jy sukkel om daardie eerste stap tot aksie te neem, lees hier ...
Met die somer in volle swaai voel jy dalk ook soos ’n sagtepels diertjie wat uit ’n winterslaap ontwaak het. Nuwe energie en lus vir die lewe wil-wil deur jou are begin bruis. Laat die lentebloeisels en jong, groen blare aan die bome vir jou ’n aansporing wees om self iets gedoen te kry. Dalk is dit ’n ou projek wat jy al sedert die skepping uitstel om te doen of ’n nuwe uitdaging waaroor jy baie onseker voel.
Almal ken die uitdrukking “goed begin is half gewin ...”. Maar dit is juis by die begin waar die knoop lê. Jy weet nie waar en hoe om te begin nie ... Die eetkamermuur wat jy wil verf begin skielik na die muur van China te lyk. Of dalk wéét jy waar om te begin omdat jy dit al tot vervelens toe in jou kop (en op papier) uiteengesit het, maar jy kry jouself net nie so ver om tot aksie oor te gaan nie. Gelukkig is daar raad vir die aksie-benadeeldes, die soutpilare en die uitstellers onder ons ...
Só maak jy ’n begin ...
1. DEEL DIT OP.
Enige taak, maak nie saak hoe groot dit is nie, kan in kleiner, hanteerbare dele opgebreek word. Gestel ek sou jou vra om ’n boek van 300 bladsye te skryf, sal jy waarskynlik voel dit is ’n te groot hap om af te byt. Maar as ek jou sou vra om net een bladsy elke dag vir die volgende jaar te skryf, lyk die taak al makliker. Selfs al begin jy net vandag met die kleinste stukkie van die grootste taak, het jy ten minste al iets gedoen.
2. DOEN, DUMP OF DELEGEER.
Gebruik hierdie beginsel om die lewe vir jouself makliker te maak. Vra jouself eers af of dit iets is wat hoegenaamd gedoen moet word. Indien wel, is jy werklik die regte een om dit te doen? Waarom sal jy self jou belastingvorm invul as ’n belastingkonsultant dit baie vinniger en slimmer kan doen.
3. STEL SPERDATUMS.
As ’n taak klaar in kleiner dele opgedeel is, kan jy jouself motiveer deur sperdatums vir verskillende take op te stel. Maar wees asseblief realisties en nie te hard op jouself nie. Onrealistiese teikens en ’n sersant-majoor-houding gaan net jou moed breek.
4. BELOON JOUSELF.
’n Beloning was nog altyd ’n baie beter wortel-voor-die-neus as straf. In plaas daarvan om te sê “As ek nie teen môre daardie hoofstuk gelees het nie, moet ek by die huis bly as die ander gaan fliek”, sê eerder “As ek daardie hoofstuk klaar gelees het, kan ek gaan fliek”.
5. VERANDER “EK MOET” IN “EK WIL”.
Al ooit agtergekom hoeveel makliker dit is om iets te begin doen waarvan jy hou (soos geskenke toedraai) teenoor iets waarvan jy nie hou nie (soos kaste regpak). Ongelukkig vereis te lewe van ons om soms goed te doen waarvoor ons geen natuurlike aantrekkingskrag het nie. Die geheim is dan om verby die onmiddellike taak te kyk en te fokus op die voordele wat dit vir jou kan inhou as jy dit afhandel. Dink net hoeveel beter jy gaan voel as jy klaar is.
6. BENUT JOU ENERGIE OPTIMAAL.
Van nature is ons geneig om dit waarvan ons hou eerste te doen. Maar doen eerder die ding waarvan jy die minste hou (of wat die moeilikste lyk) wanneer jy die meeste energie het. As jy weet dat jy ’n oggend-mens is, staan vroeg op en handel daardie regpak projek af terwyl jy nog vars en vrolik is.
7. HERDOOP JOUSELF.
Jou reputasie as ’n uitsteller loop jou al vooruit. “Ag nee wat, sy sal dit nooit doen nie,” is wat jou familie gewoonlik sê as hulle van jou planne hoor. En in jou eie gedagtes dink jy aan jouself as “lui, onbetroubaar en ’n mislukking”. Selfs al sien jy dit nog nie in die praktyk nie, moet jy anders oor jouself begin dink en praat. Visualiseer jouself as ’n doener en iemand wat ’n sukses maak van dit wat sy aanpak.
8. HANTEER BLOKKASIES.
Wanneer jy regtig negatief en nie lus voel nie, vra jouself: “Is daar enigiets, maak nie saak hoe klein nie, wat ek bereid is om te doen?” As jy daardie een klein dingetjie gedoen het, voel jy ten minste nie soos ’n totale mislukking nie.
9. VERBIND JOUSELF.
As iemand jou vra wanneer jy met ’n sekere taak gaan begin en jy gee wollerige antwoorde soos “miskien volgende week” moet jy weet dat jy dit waarskynlik nooit gaan doen nie. Kry iemand teenoor wie jy verantwoording kan doen en wat jou kan help om teikens te stel en jou vordering dop te hou. As jy wil begin oefen, vertel soveel mense as moontlik. Want dit gaan baie moeiliker wees om uiteindelik kop uit te trek as tien mense weet wat jy beplan het om te doen.
10. KYK VORENTOE.
Jy kan nie vorentoe ry as jy aanhou terugkyk in jou truspieel nie. Fokus op waarheen jy op pad is, eerder as op waar jy vandaan kom en verbeel jou al hoe goed jy gaan voel wanneer jy slaag.
En as jy eers wil wag vir die weerligstraal om te kom vóór jy wegspring, hou Frank Tibolt se woorde in gedagte:
“Ons behoort geleer te word om nooit vir inspirasie te wag om iets te begin nie. Aksie skep inspirasie.”
En wat is jou verskoning?
Die studeerhoekie is in ’n toestand. Belangrike rekeninge word verlê, daar is geen ruimte om te werk nie en al die opgegaarde tydskrifte is al ’n brandgevaar! “Vandag is die dag waarop ek ’n beter stelsel uitdink en hierdie plek regpak,” sê jy vir jouself. Maar jy doen dit nooit nie. Klink een van die volgende redes wat jy as verskoning aanvoer dalk bekend?
“Ek weet nie waar om te begin nie. Alles voel so oorweldigend.” Jy is waarskynlik hopeloos ongeorganiseerd en het nog nie geleer om ’n groot taak in kleiner, meer beheerbare dele op te breek nie.
“Daar val altyd iets voor. Sodra ek wil begin, het die kinders iets nodig of wil ’n vriendin kom kuier.” Hierdie verduideliking spreek boekdele oor die grense wat jy stel. Ander (jou kinders, man of vriende) se behoeftes kom altyd eerste en daarom sal jy nooit uitkom by dit wat werklik vir jou belangrik is nie.
“Ek is bang ek kry dit nie reg nie.” Jou vrees vir mislukking kan jou soos ’n soutpilaar laat vassteek. Vra jouself af waarom jy nie vertroue in jou eie vermoëns het nie.
“Voor elke element nie presies in plek is nie, kan ek nie begin nie.” Dit is ’n perfeksionis wat hier praat. Wat jy eintlik sê is: “My standaarde is te hoog vir hierdie wêreld.” Dalk is dit tyd om jou standaarde te verlaag sodat jou goeie bedoelings nie net leë woorde bly nie.
“Ek is nie vandag in die bui hiervoor nie.” ’n Bui is nie soos ’n verkoue wat jou skielik oorval nie. Diep binnekant het jy vir jouself gesê jy is nie vandag lus om die studeerhoekie reg te pak nie. Jy behoort in beheer van jou emosies te wees en nie andersom nie!
(Uittreksel uit Finesse Tydskrif)
.
Không có nhận xét nào:
Đăng nhận xét