Chủ Nhật, 13 tháng 5, 2012

Eie-tyd en Oorvloed


Toe ek hierdie artikel oor eie-tyd en ALLEEN wees begin skryf, het ek op die internet gesoek na 'n mooi aanhaling of gediggie om hier te plaas, maar al wat ek op afgekom het was dinge soos, "Om alleen te wees is om sonder liefde te wees", "Nou is ek alleen, die pad lyk donker, eensaam en dood" en "dit is swaar om alleen te wees". Nêrens is daar iets goeds of positiefs te vinde oor 'alleen' wees nie. Selfs Wikipedia beskryf iemand wat daarvan hou om alleen te wees as "iemand wat menslike wisselwerking vermy, uiterste vorme van skuheid en ingekeerdheid openbaar of aan sielsiektes ly." Hoe op aarde het die mensdom tot hierdie gevolgtrekkings gekom...? 

Ek verstaan heeltemal die gevoel van verlies wanneer mens 'n geliefde verloor of 'n verhouding tot 'n einde kom, maar selfs dít is nie 'n rede om alleen-wees te vrees nie. Om bang te wees om alleen te wees is soos om te sê, 'iewers langs my lewenspad het ek my eiewaarde verloor. Ek het myself nie lief genoeg om my eie geselskap te waardeer nie'. 

Nou het ek heeltemal van die paadjie af gedwaal! Nee, ek wou skryf oor die salige gevoel van alleen wees met jouself en dit geniet, daardie eie-tyd waarna soveel mense smag maar nie weet hoe om te bewerkstellig nie. Hulle voel skuldig as hulle bietjie tyd aan hulself spandeer met die gevolg dat elke oomblik gevul word deur ander mense se behoeftes te vervul en sodoende leer hulle nooit om alleen-wees te geniet nie. 

As kinders is ek en my susters en broer baie aangemoedig om alleen te speel, ons eie ding te doen en om ons eie geselskap te geniet. Dit het ons geleer om kreatief te wees, meer te dink aan oplossings vir probleme, selfstandige besluite te neem en om te verstaan wanneer ander mense alleen wil wees. 

Daardie eie-tyd gun mens die kans om die lewe in die regte perspektief te sien, dankbaarheid te beoefen en toe te laat dat oorvloed jou lewe betree sodat, selfs wanneer jy alleen is, jy nie eensaam sal wees nie. 

:: 


Không có nhận xét nào:

Đăng nhận xét