::
Dis Mei-maand wat voorlê, my gunsteling maand. Nie net oor dit my geboorte-maand is nie, maar ook oor die perfekte temperature - 'n gemiddeld van 24ºC hier in Suid-Afrika, met windlose dae vol sonskyn wat verseker dat ek die laaste takies in die tuin kan klaarkry voor Winter my weer die huis indryf. Die eerste ryp is nog 'n entjie weg, die grasperk is nog groen en oral skarrel die voëltjies ywerig agter die insekte aan voordat daardie kosbare bron van voedsel opdroog.

Vir my is Mei 'n maand van introspeksie, om te kyk na wat die afgelope Somer in die tuin verrig is en te beplan vir die komende Lente. Soos ek deur die tuin stap, word nuwe idees gebore en gryp ek gou na 'n pen en my tuin-joernaal om aantekeninge te maak voordat die inspirasie verdwyn. Ek sien 'n spasie vir nog 'n voëlbad of kosbak en maak sommer 'n lys van plante wat mooi sal lyk langsaan dit. 'n Vlinder sweef verby en ek besluit om sommer nog 'n Buddleia Salvifolia te kry, waarvoor die Skoenlappers baie lief is, vir 'n leë hoekie.
My Grootstreepswaeltjie net voor hulle pad gevat het (Waterverf in my Natuur-joernaal)
Hierdie maand, en elke April, het ek en my pa altyd dop gehou hoe die Swaeltjies bymekaar kom vir hulle lang vlug Noord en die hemele is snaaks-stil sonder hul ewige geroep soos hulle sweef en duik. Hul modder-huisies is leeg onder die dak se oorhang, maar is 'n blye versekering van hul terugkoms in September.
Die Janfrederik (Cape Robin) het ook al hasepad gekies tesame met die Piet-My-Vrou, en die Swart Suikerbekkie en sy vroutjie is al vroeg-Maart weg na wie-weet-waar. Die Lysters het hierdie jaar 'n kans geneem en laat in Maart weer nes gemaak en was gelukkig om hul kleintjie groot te maak voor hul vertrek. Ek het al menigmaal met 'n kleintjie gesit wat agter gelaat is en wat ek moes grootmaak. Die Kwikstertjie se stem is ook stil, maar my geveerde vriende wat agterbly baljaar lustig en vol lewe sonder enige vrees vir die komende Winter of die toekoms.
Ek verwonder my altyd aan die lewenslustigheid van voëls - elke oggend word begroet met, wat vir my klink soos, 'n dankbaarheidslied. En wanneer ek voel dat depressie op my wil afsluip, is dit die voëltjies se gesing wat my altyd regruk, wat my herhinner om weer in dankbaarheid te lewe.
::
::
Không có nhận xét nào:
Đăng nhận xét