Sielkundige hulp
“Selfhelp is ’n populêre sindroom eie aan ons tydsgees van kitsoplossings en gemak. Daar is wel tye wanneer jy jouself kán help. Soos wanneer jou kar se wiel pap is. Maar as jou psige se wiele afblaas, is dit beter om ’n sielkundige te raadpleeg.” Só glo André Grundling, sielkundige met ’n privaatpraktyk in Uitenhage.
“Die mens is ’n komplekse wese. Die buiteblik van ’n professionele, neutrale persoon help jou om beter perspektief te kry oor wat jou pla. Boeke en tydksrifte kan wel troos, maar dis soos ’n pleister op die wond. Selfhelpboeke vereenvoudig probleme en bied onrealistiese kitsoplossings. Terapie breek deur die komplekse lae van jou psige. Jy het soms nodig om jouself te hoor praat.”
Wanneer gaan klop jy by ’n sielkundige aan? Jou liggaam, emosie en denke stuur dikwels boodskappe in die vorm van simptome: ’n gevoel dat jou lewe betekenis verloor het of iets meer fisies soos ’n angsaanval. Dit tas jou menswees aan en skielik voel Dr Phil vreeslik ver weg.
Wat jy nodig het voor jy ’n sielkundige besoek is waagmoed, eerlikheid, geduld en ’n bereidwilligheid om te verander. Sáám ontgin ons dan die probleem. Daarna is dit ’n stap vir stap proses. Eers herken jy jou probleem, dan erken jy jou probleem en dan takel jy hom. Hoewel ’n probleem soms nie opgelos kan word nie, kan dit wel beter bestuur word.
Terapie ’n veilige hawe waarbinne elke mens groei en ontwikkel. Daar’s niks vreemd of mal daaraan nie. Dis ook gemik op lewenskwaliteit en persoonlike verryking. Sokrates het immers nie verniet gesê die lewe wat nie ondersoek word nie is nie die moeite werd om geleef te word nie!
Selfhelp
Om jouself te help is bemagtiging op sy beste, só glo ek. As jy op ander staatmaak om jou probleme op te los, raak jy afhanklik. Jy moet leer om keuses te maak en besluite te neem oor jou eie lewe. Deur die proses van selfhelp leer jy om jouself te vertrou en dit beteken groter eiewaarde en selfvertroue. Is dit nie iets om na te streef nie?
Elke persoon kán homself help. Wees eerlik met jouself. Soms verkry ons onbewustelik voordeel uit ’n probleem en dis wat maak dat probleme voortduur. Vra jouself: ‘Hoe graag wil ek hierdie probleem oplos?’ en ‘Wat kry ek uit die probleem?’” As jy byvoorbeeld nooit nee sê nie, mag dit onderliggend wees tot die gevoel dat jy spesiaal is vir iemand of daardeur voel mense het jou nodig.
Hoekom het so party mense drama in hulle lewe en ander nie? Ons gedagtes beïnvloed elke deel van ons lewe. Wees bewus van gedagtes in jou kop en die woorde wat jy praat. Dít bepaal jou realiteit.
Die selfhelpproses behels die neerskryf van gedagtes. Wanneer jy jou gedagtes in swart en wit voor jou sien, help dit om die probleem duideliker te sien. Herskryf jou gedagtes positief. Werk met jou nuwe gedagtes en onthou verandering neem tyd.
Henry Ford het gesê het: “Of jy dink jy kan of jy kan nie, jy is reg.”
Dis só waar. Besluit self, hoe jy na die lewe wil kyk.
"Ek moet bewus wees van slegte dinge..."
Baie mense glo, "Ek moet bewus wees, en waak teen, slegte dinge en ek moet uitkyk vir slegte dinge en myself net na goeie dinge lei."
Jy kannie albei terselfdertyd doen nie. Jy kannie op die uitkyk wees vir slegte dinge en dan probeer toelaat vir net goeie dinge nie. Dit is vibrerend onmoontlik...
.
Không có nhận xét nào:
Đăng nhận xét